Kuier op die koffiestoep
Floris en René Brand het in Mei 2004 begin met die koffiestoep elke tweede Woensdagoggend van 08:00 na 09:00.
Elke besoeker bring sy/haar eie beker en ten minste R2.00. Uit dié fonds word voorraad aangekoop en wat oorbly word aan die einde van elke jaar aan Die Burger Kersfonds geskenk.
KOFFIESTOEP-GESKIEDENIS
Die ontstaan van Koffiestoep het ‘n interessante aanloop.
Gedurende 2003 het ons saam met ons seun, Jaco, 16 dae deurgebring in die piepklein Franse dorpie Breil-sur-Roya. Hierdie plekkie is sowat 30 km noord van Monaco en net 4 km vanaf die Italiaanse grens.Opvallend in hierdie plekkie is dat die meeste van die inwoners soggens voor die enigste bakkery kom toustaan en as die bakkery open, koop elkeen sy brood vir die dag. Hierna sluit die bakkery vir die res van die dag. Maar dan het die inwoners die gebruik om met hul aankope by die tafeltjies van die kafee langs die bakkery te gaan sit, daar koffie te bestel en so duur die koffiedrink en gesels vir die grootste deel van die res van die oggend voort.
Dit is toe net hier waar ons op die gedagte gekom het om ‘n soortgelyke saamgesels/saamkuier oor ‘n koppie koffie hier op Dwarswegstrand te probeer. Ons het die konsep met verskeie inwoners bespreek en toe besluit om met die instelling daarvan te waag.Daar is toe teen Mei 2004 begin met die aanbieding van die gereelde Koffiestoep hier by Dwarswegstrand. Dit word gedurende skoolkwartale

Mej. Annelie Maré en Floris Brand nadat sy R 2000 vir Die Burger se Kersfonds in ontvangs geneem het .
elke tweede Woensdagoggend gehou vanaf 08:00 tot 09:00 (en in die winterkwartale vanaf 08:30 tot 09:30). A1 die byeenkomste word op die ruim stoep van ons huis aangebied.
Elkeen wat kom, moet net sy eie beker saambring asook ‘n geldjie om in ons bottel te gooi. Koffie, tee, suiker, melk en ‘n lekker groot houer kookwater word voorsien. Dan word hier groot gesels, na almal se welstand verneem, gedeel in ander se goeie nuus, maar ook ondersteuning gebied aan vriende wat slegte nuus ontvang het.Die bywoning wissel van so 12 lede (op swak oggende) tot so 26 lede (op goeie oggende). Soms is daar ook besoekers en vakansiegangers aan Dwarswegstrand wat hier kom inloer of van die inwoners wat hulle vriende saam nooi na die byeenkomste.
Aan die einde van elke jaar word die geld in die bottel getel en dit word dan aan Die Burger se Kersfonds geskenk. Aanvanklik was die bedrag sowat R600 vir die eerste jaar, maar verlede jaar is die mooi bedrag van R1310 tydens die Koffiestoepgeleenthede ingesamel.Afgesien van die lekker saamkuier en saam gesels ,het die Koffiestoep ook die gevolg dat hierdie besondere gemeenskap van Dwarswegstrand ’n hartlike, wonderlike buurskap ontwikkel wat elkeen graag jaloers vertroetel.
Floris en René
Koffiestoep insamelings deur die jare
2004 – R403
2005 – R620
2006 – R800
2007 – R1 240
2008 – R1 400
2009 – R1 310
2010 – R2 100
2011 – R2 170