Leon Truter (17.09.1939 - 25.08.2011)

 

Huldeblyk namens die Direksie

Dit is met diepe leedwese dat ons verneem het na die skielike afsterwe van dr. Leon Truter, voorheen lid van die SAOU Hoofbestuur Kaapland en huidig Voorsitter van die Dwarswegstrand Aandeleblok Maatskappy.

Leon was hoogs gedissiplineerd en het sy lewe op die beginsels van sy familie, kerk en sy liefde vir Dwarswegstrand geskoei. Hy sal vir sy pligsgetrouheid en ywer, die gehalte van sy voorbereiding en sy aandag aan selfs die kleinste detail onthou word. Sy voorbeeld en onkreukbaarheid, selfs onder groot druk, stel ‘n standaard wat navolgenswaardig bly. Daar bestaan ook waardering daarvoor dat waar hy elke rede gehad het om na ‘n loopbaan van dienslewering aan ander, sy aftrede rustig te geniet en op eie belang te konsentreer, hy desnieteenstaande ook in sy aftreejare voluit diens aan sy medemens op talle terreine, die ABM se Direksie ingesluit, bly lewer het. Ons is, en bly, teenoor hom dankbaar dat hy bereid was om jaar na jaar die Voorsitterskap van die ABM te aanvaar en die rol met sulke onderskeiding te vertolk. Ons het uiteraard vir Leon as onderwysman en lid van die strukture van die gewese SAOU (Kaapland) goed geken, en onthou sy onmisbare bydraes in daardie professionele omgewing met die grootste waardering. Wees tog verseker van ons agting en blywende waardering vir sy bydrae tot die heil en welsyn van sy medemens.

As mentor en vriend sal hy altyd in die gedagtes van sy vriende by die SAOU wat hom geken het bly. Ons lewens sou beslis armer gewees het indien ons paaie nie gekruis het nie. Die rykdom van mooi herinneringe aan Leon Truter sal ons vir altyd bybly. Ons innige meegevoel gaan ook uit na sy familie in hierdie moeilike tyd.

Steve Roux

Ondervoorsitter DWS ABM

 

Huldeblyk namens die inwoners van Dwarswegstrand

Leon Truter is op 17 September 1939 gebore. Hy voltooi sy skoolloopbaan aan die Paarl Gimnasium en studeer daarna aan die destydse Paarlse Onderwyserskollege. Hier onderskei hy hom as studenteleier en sportman. Deur buitemuurse studie voltooi hy sy B.A.–graad aan die Universiteit van Suid-Afrika en volg dit later op met B.Ed.- en M.Ed.-grade aan die Universiteit van Port Elizabeth. In 1987 promoveer hy in Opvoedkundige Sielkunde aan dieselfde universiteit.  Sy jarelange onderwysloopbaan het hy as hoof van die Laer Volkskool op Graaff-Reinet afgesluit waarna hy en sy vrou, Ellen, by Dwarswegstrand afgetree het.

Leon Truter het diep spore getrap in die onderwys. Hy sal onthou word as beginselvaste, netjiese, streng, dog liefdevolle kollega. Hy was ’n administrateur by uitnemendheid. Ek sal hom onthou as een van die mees pligsgetroue mense met wie ek bevoorreg was om mee saam te werk. Sy pligte het hy met toewyding, sorg en bekwaamheid onmiddellik aangepak en deurgevoer. Uitstel was nooit deel van sy woordeskat nie. Leon was ’n stil, beskeie en nederige dienskneg.

In die breër onderwysgemeenskap het Leon ’n groot bydrae gelewer. Hy was lid van die Hoofbestuur van die Kaaplandse Suid-Afrikaanse Onderwysersunie asook van talle onderwyskomitees. Op onderwyskongresse het hy beskrywingspunte met erns, oortuiging en openhartigheid beredeneer, maar in die wandelgange kon hy weer rustig aan sosiale aktiwiteite meedoen.

As gesinsman was Leon ’n minsame, sorgsame en trotse eggenoot en vader. Hy het ruim voorsien in Ellen, sy kinders en kleinkinders se lewensbehoeftes. Hy was ’n staatmaker en rolmodel binne die raamwerk van sy menslike vermoëns. Hy het Ellen en sy kinders opreg liefgehad. Met Ellen se onlangse ernstige siekte het Leon hemel en aarde probeer versit om haar gesond terug by die huis te kry. Hy het geen moeite vir Ellen en sy kinders ontsien nie. Hulle vreugde was sy vreugde; hulle leed was sy leed.

In die gemeenskappe waar Leon gewoon het, het hy met vlyt gedien. Hy het ’n prominente rol in sy kerk gespeel as diaken en ouderling en as lid van verskeie kerklike kommissies. So byvoorbeeld was hy onder-burgemeester van Graaff-Reinet se stadsraad en ook president van Grootbrakrivier se rolbalklub. Op die rolbalbaan was hy ’n ware heer wat die reëls van die spel en sy opponente gerespekteer het. Hy sal onthou word as ’n gedugte teenstander, maar ook as iemand wat nie groter as die spel was nie.

In die vroeë neëntigerjare het Leon ’n onmisbare rol gespeel by die stigting van die Aandeleblokmaatskappy by Dwarswegstrand. Hy was lid van die eerste direksie en het later voorsitter daarvan geword tot en met sy sterwe. Hy was ’n krag in die vestiging en uitbou van die Aandeleblokmaatskappy. Vandag is aandeelhouers trots op hul privaat strandoord wat Leon hartstogtelik liefgehad en weergaloos gedien en vir die nageslag beveilig het. Saam met sy ontslape skoonvader, H C Botha, wat baanbrekerswerk gedoen het om die strandoord tot stand te bring, eer ons Leon en betuig ons dank vir sy onverdrote vlyt en inspanning.

Vir Ellen, die kinders en kleinkinders bid ons die Here se vertroosting toe. Susan le Roux, jarelange inwoner van Dwarswegstrand, het die volgende betekenisvolle spreuk geskryf: “Beproewing bring loutering vir hulle wat die taal van die Ewigheid verstaan.” Leon se lewe en sterwe het vir ons almal ryke betekenis al verstaan ons dit nie nou nie.

Tienie Barnard

 

Huldeblyk namens die webmeesters

Daar is baie redes hoekom ek Leon sal onthou en hoekom ek hom bewonder het, o.a. vir die hulp en leiding wat hy onlangs aan die beplanningskomitee gegee het met die oprigting van die gedenkteken en ook vir die ondersteuning aan my en Frank Olivier met die totstandkoming van die Dwarswegstrand-webtuiste.  Hy het ‘n feitlik ensiklopediese kennis van die oord en die ABM gehad en het, sonder uitsondering, amper onmiddellik reageer op enige versoek om hulp en inligting – soos sy gebruik met alles was om sake vinnig en deeglik te hanteer.  Leon het ook die moed van sy oortuigings gehad om moeilike sake, waarvan ander miskien sou wegskram, aan te spreek en ek is dankbaar ek het per geleentheid vir hom gesê ek is baie bly ons het mense soos hy aan die stuur.

Op ‘n meer persoonlike noot, my kinders was almal leerlinge by Laer Volkskool, waarvan Leon hoof was.  Hulle het ‘n baie diep ontsag vir dié man gehad.  Een van my seuns wou, terwyl hy nog op ‘poe-pimêle’ skool was ‘n ‘skooljuffrou’  word soos ‘mnr. Tietel’.  My ander seun onthou hoe ‘oom Leon een pouse gesien het hoe ek Anton Bouwer se tas omskop en toe het hy my goed bygekom het met so breë leer ding wat soos ‘n vlieëplak lyk‘.

Die volgende storie word op verskillende maniere vertel, maar die essensie daarvan spreek boekdele van Leon Truter as mens.  Een van my kinders vertel in sy laerskooldae ietwat geskok aan tafel hoe ‘n Sub-A’tjie vir Leon geroep het:  ‘Haai, oom, kom maak my skoenveters vas, asseblief, man‘.  Sonder ‘n woord het die groot man met ‘n doktorsgraad voor die kleintjie gaan hurk en sy veters vasgemaak.

Almal wat hom geken het, het geweet van sy humorsin en hoe hy ‘n grappie kon geniet.  Meer nog, hy kon ook ‘n storie ten koste van homself met smaak vertel en sy eie verleentheid geniet.

Sy e-posse aan my het dikwels begin met ‘n hartlike ‘Dagsê, my ou maat‘.  Nou kan ek net namens baie vriende aan hom sê: ‘Totsiens, ons ou maat‘.  Hiermee saam wens ons vir Ellen, die kinders en kleinkinders sterkte toe vir die alleen-tyd wat voorlê.

Basil Booysen