Straatname is in April 1989 aangebring, volgens Rachael Olivier se notas.

Al die strate is vernoem na vroeëre hoofbestuurslede van die SAOU.

W J Viljoenstraat

W de Vos Malanstraat

Theo Pauwstraat

G G Cilliersstraat

H C Botha – rylaan

M J Stuckistraat

STRAATNAME VAN DWARSWEGSTRAND

Dwarswegstrand was eers bekend as die SAOU Strandoord.  Die agt strate wat daar tans is, dra die name van manne en vroue wat ‘n beduidende rol in die geskiedenis van die SAOU in die besonder, en die onderwys in die algemeen, gespeel het.

GG CILLIESTRAAT

Prof dr GG Cilllie word in sommige kringe gehuldig as een van die grootste onderwys seuns van Suid-Afrika.  Hy is in 1870 in die Blouvlei, Wellington gebore en het sy eerste onderrig in mnr Stucki se skool ontvang.  Na sy vader se dood moes hy met die boerdery gaan help, maar in 1891 het hy teruggekeer skool toe en verbasend vinnig gevorder.  In 1899 behaal hy die BA graad en word onderwyser aan die Normaalkollege, Kaapstad.  In 1904 ken die universiteit van Straatsburg ‘n Ph.D in Grieks en Latyn cum laude aan hom toe!!!!  In 1905 word hy hoof van die Cradockse Hoër Seunskool, in 1906 hoof van die Hoërskool Franschhoek, in 1908 professor in klassieke tale aan die Victoria Kollege, in 1913 dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde en vanaf 1918 tot 1947 rektor van die Universiteit van Stellenbosch.  Hierdie merkwaardige man was 5 jaar onderwyser en 39 jaar professor – 34 waarvan in die Opvoedkunde.  Hy het hom onvermoeid beywer vir Christelike en nasionale onderwys, vir onderrig van ons volksgeskiedenis en onderwys deur die moedertaalmedium.  Hy was ‘n stigterslid van die SAOU en ook die voorsitter in 1907 en 1955.  Die erelidmaatskap van die SATA (South African Teacher’s Association) en TO (Transvaal Onderwysersunie) is hom aangebied, en verder is die Ere-Orde van die Vriend van die Voortrekkers en ere-doktorsgrade van die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad aan hom toegeken

MJ STUCKISTRAAT

Marinus Jacobus Stucki is op 18 November 1842 in Alkmaar, Noord-Holland gebore.  Op 1 Desember 1860 het hy op Blaauvlei, Wellington aangekom en twee dae later op 18 jarige leeftyd, sy werk as onderwyser sonder enige ondewyskwalifikasies aanvaar.  Sy klaskamer was ‘n deel van ‘n kelder wat deur ‘n middelmuur van die res van die gebou afgeskort was.  Die skool was die eiendom van die boere van daardie omgewing wat ook sy salaris betaal het.  In 1861 het die skool egter ‘n staatskool geword.  Hy was vir 42 jaar betrokke by die Blouvleiskool en het in 1902 afgetree.  Na sy aftrede het mnr Stucki nog baie groot belangstelling getoon in die openbare lewe.  Hy was lank lid van die skoolraad van Wellington, eksaminator van die Laer Taalbond eksamen, stigterslid en eerste voorsitter van die SAOU, hoofredakteur van die SAOU se maandblad vanaf 1910 tot 1918 en ook ouderling van sy kerk.  In 1920 is hy benoem tot erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns en in 1934 ken die Universiteit van Stellenbosch die M.Ed graad aan hom toe

WJ VILJOENSTRAAT

Willem Jacobus Viljoen is op 5 Oktober 1869 in die distrik Richmond (Kaapland) gebore waar hy ook sy eerste skoolopleiding ontvang het.  Hy was onderwyser aan die Normaalskool Stellenbosch, maar het ook verder studeer.  In 1894 het die universiteit van Leiden ‘n Ph.D graad aan hom toegeken.  Vanaf 1895 tot 1910 was hy professor in “De Moderne talen en Geschiedenis aan die Victoria Kollege op Stellenbosch waar hy ‘n reuse bydrae gelewer het tot die erkenning van vereenvoudigde Nederlands.  Hy was ‘n mede-stigter van die SAOU, het in ‘n groot aantal rade en komitees gedien en was onder andere lid van die raad van die Universiteit van Kaapstad, vise-kanselier en lid van die Senaat van Unisa, voorsitters van die SAOU, De Algemeen Nederlands Verbond en ook lid van die hoofbestuur van die ZA Taalbond.  Vanaf 1910 tot 1918 was hy Direkteur van Onderwys in die Oranje Vrystaat en op 1 Julie 1918 het hy Superintendent-generaal van Onderwys van Kaapland geword.  Op 19 Julie 1929, sterf hy onverwags

W DE VOS MALANSTRAAT

Dr Wouter de Vos Malan het in 1923 an die Universiteit van Columbia, New York promoveer op die proefskrif “Tendencies in secondary education with special reference to the situation in the Cape Province of the Union of South Africa.”.  Hy was dus baie goed toegerus toe hy in 1934 die amp aanvaar het as Superintendent-generaal van Onderwys van Kaapland.  Gedurende sy ampstermyn het die tweede wêreldoorlog ‘n waterskeiding in die geskiedenis veroorsaak.  Die gevolg was ‘n verbrokkeling van sekerhede, ‘n ongeëwenaarde kennisontploffing gepaard met verbysterende ontwikkeling op wetenskaplike, tegnologiese en industriële terreine.  Dit was Malan se taak om, ten spyte van finansiële probleme, te sorg dat Kaapland se onderwysstelsel die groot uitdagings van die nuwe wêreld die hoof sou kon bied.

THEO PAUWSTRAAT

Dr Theo Pauw is in 1940 aangestel as dosent in Sielkunde aan die destydse OKP (Onderwyserskollege, Paarl).  In 1949 onderneem hy ‘n uitgebreide studiereis na die Verenigde Koninkryk en Europa en in 1951 word hy aangestel as hoof van OKP.  Gedurende sy termyn as rektor, het die OKP van krag tot krag gegaan en verskeie uitbreidings is aangepak en suksesvol deurgevoer.  Hy het in 1958 die sekretaris van die SAOU en redakteur van Die Unie geword.

In die georganiseerde onderwys was Theo Pauw hoog aangeskrewe.  As lid van die Hoofbestuur van die SAOU, die Dagbestuur, die Federale Raad van SA Onderwysverenigings en voorsitter van die SAOU, het hy diep spore nagelaat.  In die hoedanigheid as sekretaris van die SAOU en redakteur van Die Unie, het hy die saak van duisende onderwysers met waardigheid en oortuiging gestel.  By vele geleenthede het hy as kampvegter vir die belange van die onderwyser opgetree.  Sy professionele optrede het by almal agting afgedwing

HC BOTHARYLAAN

HC Botha is op 29 Januarie 1907 op die plaas Schimmelkrans in die distrik George gebore.  Hy het aan die Hoërskool Outeniqua matrikuleer en daarna ‘n onderwys kwalifikasie aan die universiteit van Stellenbosch verwerf en later die B.Comm graad aan Unisa.  Na sy twee en sewentigste aansoek het hy ‘n eerste onderwyspos by ‘n eenmanskool in die distrik van Prieska gekry.  Hy het verskeie onderwysposte beklee onder andere op Burgersdorp, Oos-Londen en Wynberg.  In I964 is hy aangestel as assistent-sekretaris van die SAOU en in 1967 het hy die sekretaris geword.  Sedert 1957 was HC Botha ononderbroke lid van die Hoofbestuur van die SAOU en ook voorsitter daarvan in 1960.  Hy het op vele Departementele kommissies gedien, was lid en later voorsitter van die Federale Raad van SA Onderwysersverenigings, lid van die Nasionale Adviserende Onderwysraad en het ‘n reuse bydrae gelewer om die diensvoorwaardes en salarisse van onderwysers te verbeter.  Hy was beskou as ‘n kenner van wetgewing op daardie terreine.  In 1973 het die SAOU kongres afskeid geneem van HC Botha as sekretaris.  By daardie geleentheid het MJL Olivier die volgende van hierdie merkwaardige man gesê:  “HC Botha het vanweë sy betrokkenheid by die SAOU ‘n figuur geword.  En ‘n figuur word met onsterflikheid beklee.”

HC Botha was die dryfkrag agter die SAOU se besluit om ‘n strandoord vir gebruik deur die lede aan te koop en te ontwikkel.  Die ontwikkeling van Dwarswegstrand was volgens MJL Olivier “….. ‘n eenmanstaak en almal was dankbaar dat die Hoofbestuur eenparig besluit het om met mnr Botha te onderhandel oor die behoud van sy dienste in ‘n ander hoedanigheid nadat hy as sekretaris van die SAOU afgetree het.  Die naam HC Botha is sinoniem met die ontwikkeling van die SAOU Strandoord wat vandag bekend staan as Dwarswegstrand.

In 1973 was HC Botha die ontvanger van die eerste erepenning wat deur die SAOU toegeken is.  Die kongres het toe ook lewenslange ere-lidmaatskap aan hom toegeken.  MJL Olivier het by daardie geleentheid in die woorde van Churchill gesê:  “Nog nooit in die geskiedenis van die SAOU, was so veel so baie verskuldig aan so min nie.  En daardie min bestaan uit een mens – HC Botha.”

_________________________

Leon Truter

5 Maart 2006