Volgende:  HC Botha se bydrae

DWARSWEGSTRAND IN DIE VEERTIGERJARE

Pieter de Wet

Desember 1944 en ons is by die see.   Dis nou Pa,  Ma,  my suster Héula en ek,  asook ‘n vriend van Pa,  ene Van Rensburg.   Dan is daar ook Grace,  die huishulp,  en ‘n bruin seun wat Van Rensburg moes help met sy visvangery.  Dis regtig net ons sewe by die see vanaf waar die Groot-Brakrivier in die see loop tot by Glentana.  Verder is daar geen ander mense naby nie!   Ons huisie was waar Bothastrand tans is,  op die tweede duin van die see af.   Ver in die Noorde woed die Tweede Wêreldoorlog op sy felste,  maar ons in SA het dit heel vredig.  Van al hierdie dinge onthou ek niks,  maar die storie wat ek wil vertel,  het ek soveel kere by Pa gehoor,  dat ek glo dat ek niks sal uitlaat nie.

Die Seemyn ( Foto : Internet )

Vir dae al het ons ‘n groot swart ding in die see sien dryf.  Dan Mosselbaai se kant toe,  en dan weer Glentana se kant toe.  Een oggend vroeg sien ons die ding het reg voor die huis uitgespoel.  Pa en Van Rensburg is dadelik af see toe om die ding te bekyk.  Sommer nog in hulle kamerjasse!  Die ding is sowat ‘n meter hoog met drie swart punte nes ‘n groot swart pot wat onderstebo lê.  Hulle klop sowaar aan die ding asof ‘n deurtjie êrens sal oopgaan!   Die volgende oomblik duik ‘n vliegtuig op hulle all So laag dat hulle instinktief platval.  Skaars is hulle regop of die vliegtuig doen dit weer maar hierdie keer gooi hy ‘n briefie af.    Dié beland in die vlak water waar Pa dit uitvis.  In die briefie staan dis ‘n bom en baie gevaarlik.  Toe besef hulle!   In die sand skryf Pa so groot moontlik:  OK,  WE SHALL GUARD.  Die vliegtuig duik weer,  lees en verstaan en met die wegvlieg,  wikkel hy sy vlerke.  (Jare later vra ek Pa hoekom juis in Engels geskryf.  Hy sê toe dis om 100% seker te maak daai loods verstaan hulle.)

So teen 9 vm.  kom ‘n hele span vlootoffisiere en kadette in hulle wit uniforms vanaf Glentana langs die see afgestap.  Toe hulle naderkom,  wag  Pa en Van Rensburg hulle in.  Die offisier verduidelik toe aan hulle:   “Dis ‘n Duitse seemyn!   Almal asseblief agter die verste duin!   Wie se huis is dit daar bo? Is daar mense in?”   Toe Pa bevestig,  beveel hy: “Kry almal uit en agter die verste duin!”   En so gemaak.  Ma,  suster Héula,  ek en die ander twee loop lê agter die verste duin ….  sommer by die treinspoor.  Dit was ‘n baie warm dag en ons is met komberse,  water,  melk en beskuit teen die bult uit.  Ma het halfpad nog omgevlieg om die tjekboek gou te gaan haal,  want sê nou die huis word platgevee!

Pa lê natuurlik nie agter die verste duin nie en loer boonop bo-oor om te sien wat die offisier doen.  Hy trek al sy klere uit tot hy net ‘n swembroekie aan het.   Toe vat hy sy gereedskap en gaan sit wydsbeen oor die ding.  Fluit-fluit bekyk hy hom van alle kante en begin versigtig draai en krap en torring.  Hy skroewe ‘n paneeltjie oop en maak ‘n lang tou aan die ontsteker (detonator) vas en kom lê ook agter die duin.  Toe niks gebeur nie,  roep hy  “So ja!   Die ding se tand is getrek en is nou skadeloos.”   Soos blits is almal byderhand en bekyk en bevoel die ding van alle kante.”Dis besonder gelukkig dit het nie ontplof nie.   Dit lyk asof dit ‘n lekkasie opgedoen het wat die kruit natgemaak het.  Nou moet ons daarvan ontslae raak.  Maar ons sal dit eers verder van daardie huis af moet kry, want as dit hier ontplof  is daar van die huis niks oor nie.”   Hy beveel die kadette om die myn so ver as moontlik van die huis af weg te rol.

Pa sien die offisier het ‘n versterking nodig en nooi hom huis toe.  “O,  terloops”  ,   sê Pa.  “Ek is André de Wet.”   Die man steek sy hand uit en sê:  “My mag man,  ek is luitenant De Wet!”   En toe word daar behoorlik gesels!  Intussen sleep die arme kadette die myn met groot moeite verder die strand af Groot-Brakrivier se kant toe tot by die duin waar Hersham tans is.

By die huis aangekom,  trek die luitenant hom aan terwyl hy aan sy versterking teug.  Dan is hy agter die kadette aan om die myn te laat ontplof.  Toe dit ver genoeg van ons huis is,  is almal weer agter die duine in terwyl die luitenant die ding  laai  met ‘n ploftoestel en ‘n lang lont.  Dan kom val hy ook agter die duin plat en druk sy ore toe.

Intussen  is ons almal teruggehaal huis toe en omdat daar nie die oggend gekook kon word nie, het Pa begin galjoen braai,  maar toe …….  die geweldige slag!   Veel erger as wat Pa verwag het.  Hy los alles net so en hardloop!   Toe hulle daar kom,  is hulle stomgeslaan.  Daar waar die myn gelê het,  is daar nou net een geweldige krater!    So groot soos ‘n huis,  net groter.  Bo die krater hang ‘n wolk wat die son verdof!  ‘n Man wat nie wou luister nie en regop op ‘n duin bly staan het,  is van die duin af geslinger deur die geweld van die ontploffing.  Almal stroom nader.  Die sand is

verpoeier tot fyn stof.   Van êrens kom ‘n man aangestap met ‘n klein hondjie by hom.  Toe die hondjie  egter oor die stof loop,  is dit nog so warm dat hy tjankend weghardloop en op sy rug gaan lê met die pootjies in die lug.  Sy baas moes hom huis toe dra.  Van die myn was daar basies niks oor nie. Net hier en daar kon stukkies skrapnel opgetel word ……  nadat dit eers afgekoel het.  Die ontploffing was so geweldig dat stukke skrapnel bo in die nasionale pad opgetel is.  Omdat die ontploffing in die sand was,  het die krater weer gou toegeval.  Die sand was natuurlik ‘n goeie absorbeerder vir die ontploffing.  Op harde grond sou dit baie erger gewees het.

Agterna het ons gehoor dat vliegtuie twee weke voor die tyd al oor die baai gevlieg het om die myn dop te hou.  Mense by Heroldsbaai en Mosselbaai ….  die groter strandoorde ….  is ook gewaarsku. Ons was egter so heeltemal afgesonder dat ons niks hiervan geweet het nie.  Ons het ook gehoor dat met die slag,  baaiers by ander strande uit die see gehardloop het omdat hulle gedink het dat die ontploffing  by hulle was.

Maar soos op die foto gesien kan word,  is alles van die myn darem nie verwoes nie.   Vooraf het die luitenant sekere onderdele verwyder,  natuurlik vir verdere ondersoeke in hulle werkswinkels. Twee van hierdie onderdele het hy vir Pa gegee.  Die ding met die twee wiele bevat droogmiddel wat in die kruit geplaas was.  Hoekom daardie vorm,  weet nugter.  Die ander ding wat soos ‘n vet vinger lyk,  is ‘n hol loodbuis met ‘n glasvoering.  Tussen die lood en die glas was suur wat slegs kon  vrykom as die glas breek.  Die myn was ovaal en het drie van hierdie loodvingers of uitsteeksels aan sy bokant gehad.  In die see dryf dit net onder die oppervlakte waar dit met ‘n gewig op die seebodem geanker is,  gewoonlik by die ingang tot ‘n hawe.  As ‘n skip teen een van die vingers stamp,  buig die lood,  breek die glas,  kom die suur vry,  vreet deur ‘n film en word ‘n elektriesekontak voltooi sodat die battery deur die ontsteker ‘n vonk in die kruit veroorsaak,  en dan natuurlik:  BOEM!   Behalwe as die kruit nat was,  of wat ek eerder vermoed het,  dat die battery pap was!

Die ovaalbom se afmetings was soos volg:  lengtedeursnee 1, 6 m en dwarsdeursnee 0, 8 m en het ‘n lading plofstof van 150 kg gehad.  Die Britte het reeds in 194l op een van hierdie bomme beslag gelê.  Ons bom het blykbaar van sy ankertou losgebreek en van iewers in die noordelike halfrond hierheen gedryf.

(Pieter-hulle  het baie lank reeds ‘n vakansiehuis op Dwarswegstrand.   Hulle was een van die eerstes om hier  te bou toe die strandoord nog die SAOU-strandoord was.)

Volgende:  HC Botha se bydrae