Die 3 Straatbraaiers

Die braaivleisvure word aangesteek

Die gaste begin om op te daag

Maak gereed

Die braai begin

Volstoom aan die gang

Laaste braaiers

Die ete begin

Volstoom aan die gang

Volstoom aan die gang

Die braai staan einde se kant toe

Amper klaar

Klaar

ONS JAARLIKSE STRAATBRAAI OP DWARSWEG – ’n UNIEKE KEN-MEKAAR-GELEENTHEID
Ek, Tony Denobili en Ockie Cloete was die inisieerders van die sogenaamde straatbraai. Nadat ek hier op Dwarswegstrand aangeland het, het ek en buurman Tony begin gesels oor ons ledige tye en wat ’n mens alles kan doen. Kort voor lank het die buurman sy unieke braaikamer met sy unieke naam, ‘Dorsland’ , met sy unieke binneversiering voltooi en toe het ons dikwels oor ‘n glasie rooiwyn by ’n knetterende vuurtjie begin filosofeer oor ons doen en late op hierdie idilliese plek van ons. By een so ’n geleentheid in “Dorsland” het ons vir mekaar die gedagte genoem dat ons graag die inwoners met wie ons saam woon, beter wil leer ken en dat ons ‘n soort samekoms vir die doel moet reël. Ons het besluit op ‘n straatbraai en Ockie is bygesleep omdat dit duidelik was dat daar geen beter kol vir dié doel sal wees as onder die straatlig , skuins voor my huis (nr. 27), in lyn met Ockie se westekant . Ons het onsself as ’n loodskomitee aangewys en besluit op ‘n datum vir die eerste samekoms. Daar is besluit op ‘n Vrydagaand in Januarie/Februarie wanneer die uittog van vakansiegangers verby is en elkeen van ons permanente inwoners weer rustig en “normaal” begin funksioneer. Die eerste byeenkoms is dan ook inderdaad gereël, vir ‘n Vrydagaand , vroeg in Februarie 1999. Die volgende besluit was oor wie genooi moes word. Ons sou nie net by die SAOU-strand (soos dit destyds bekend was) volstaan nie, maar ook die mense teen die duin uitnooi. Ockie het onderneem om die uitnodigings te tik en genoeg daarvan te laat dupliseer en ek en Tony sou betyds by elke huis een aflewer. Kobus Maree was toe nog die bestuurder van die SAOU-strandoord en ons het sy samewerking gekry om die gedeelte van die straat voor G.G. Cilliéstraat 27 en 26 te gebruik en dit sogenaamd te “sluit vir verkeer”. Hy sou ook die braaidromme voorsien en dit is reeds vroeg die oggend langs die straat afgelaai. Daardie eerste aand was ‘n perfekte aand en die weer het mooi saamgespeel, soos trouens nog al die straatbraai-aande wat ons die afgelope 11 jaar gehou het. Daar was 34 gaste by die afskop teenwoordig.
In die jare wat gevolg het, is dieselfde patroon gevolg. Elke gas word versoek om sy eie te ete en te drinke en sitgoed te bring. Deur die loop van die dag moet elke gas ook ‘n bondeltjie brandhout onder die lamppaal kom neersit. Destyds, aan die begin, het van die dames spontaan besluit om brood te bak en ander het smeergoed voorsien en ‘n tafel is spesiaal daarvoor in nr. 27 se garage gedek.  Afwisselend vind die gebruik nog plaas. Van ons ouer gaste kan ook in die garage sit as hulle nie die buitelug wil trotseer nie. Origens lyk dit na ‘n buitelug restaurant en ‘n feestelike atmosfeer word geadem. Gaste rangskik hulle stoele en tafeltjies op die plaveisel voor nr. 27 en terwyl die dames heerlik ontspanne sit en gesels, vergader die mans om die vure en vertel hul gebruiklike grappies of los die land se probleme op. Die enkele voertuie wat verbykom tydens so ‘n straatbraai, respekteer die geleentheid en hou soms stil om te verneem na die okkasie of om sommer gou ‘n grappie met die braaiers te deel Een jaar was daar ‘n rekord getal van 78 gaste. Daardie jaar is daar kampeerders wat op daardie stadium in die woonwapark was, ook genooi. Gautengers het ons die aand gesoebat om tog elke jaar vir hulle te nooi. Hulle het ons beloof om hier te wees en die geselligheid by te woon. In die laaste jare het ons besluit om, aangesien die permanente getal huisbewoners toegeneem het, liefs die kampeerders nie persoonlik te nooi nie. ’n Uitnodiging word wel in die bestuurder se kantoor vir hulle kennisname gelaat. Ons het gevoel die samekoms raak te lomp en bemoeilik die gesellige kommunikasie en die geleentheid waarvoor dit bedoel is, naamlik om permanente inwoners beter te leer ken, bly in die slag. Omdat
Ockie nie meer permanent hier woon nie (tydelik altans!) is At Horn, sy buurman, wat later ingetrek het, in sy plek gekoöpteer.
Die gemiddelde bywoning oor die jare word bereken op 56. ’n Beginsel wat van meet af geldig is, is dat daar geen toesprake gehou mag word by die geleentheid nie. Uitsonderings is die verwelkoming van ’n nuwe intrekker of die teenwoordigheid van ‘n spesiale gas. Die geleentheid word met ‘n tafelgebed geopen.  Kobus Maree se opvolgers, eers Jan Richter en tans Johan Haupt, word steeds erken en ons het hulle samewerking waarvoor ons baie dankbaar is. Vakansiegangers wat tydens ons straatbraaigeleentheid nog vakansie hou in ’n woonhuis of een van die SAOU se huise, word ook genooi. Amptelik vier ons die aand die “uittog van die vakansiegangers”, maar die vakansieganger wat teen daardie tyd nog rustig hier in ons geledere verkeer, het begrip vir ons gevoelens en geniet die aand net soos enigeen van die permanente inwoners.
Alwyn Visser (Sameroeper Straatbraai Loodskomitee)